Lees Psalm 68:12-36.
God verpletter die kop van sy vyande, die kop van dié wat in hulle sonde volhard (v 22).
Here, ná soveel eeue is dit nie so eenvoudig
om U in die ou geskiedenis na te spoor nie.
Om eerlik te wees: U optrede – soos deur die ou mense oorvertel –
laat soms ons oë rek en, wanneer niemand kyk nie,
krap ons hieroor kop, en blaai verwoed in ons boeke oor U.
Heimlik vra ons: Was dit alles Gód se werk?
Onder meer die vyande se koppe wat met soveel leedvermaak
verpletter moes word. Sou God dít doen?
Die bloed wat so brutaal gevloei het, byvoorbeeld –
hoe die ou volk hul voete triomfantelik daarin kon afspoel
en die honde dit laat oplek. Sou God dít sê?
Ander mense se kosbaarhede wat sonder skroom gebuit is,
en alles wat vernietig is. Sou God dít beveel het?
Haai nee, Here, ek sien U eerder in die triomftogte
en hoor u Naam in die liedjies –
en marsjeer sing-sing saam.
En wanneer daar oor u mag gepraat
en u grootheid geprys word, is ek voor in die koor.
Ek luister maklik na u stem wanneer u kinders saamkom.
Saam met hulle roep ek: “Halleluja!” en “Amen!”
U moet my nie verkeerd verstaan nie:
Ek weet dat ek uiteindelik bitter min van U weet.
Vergewe my daarom dat ek so te kere gaan oor dinge
waarvan ek niks weet nie. Dit het lánk gelede gebeur –
en ek was nie daar nie.
Ek is nou hier.
Daarom lig ek sonder voorbehoud my hande om U te prys
en buig ek uit vaste oortuiging my hoof om U te aanbid.
Die greintjie God wat ek ken,
is genoeg.
Amen.
Barend Vos