Lees Psalm 69:1-5.
Red my, o God, want die water het tot by my keel gekom (v 2).
Ag, Here, van die ergste nagmerries wat my nog
geteister het, keer deesdae alle rus van my af weg:
Vasgevang in ’n kuil modder, ’n poel sonder bodem,
’n stroom wat my meedoënloos ondertoe suig …
En ek kan nie swem nie; U weet ek kon nog nooit.
Water trek my altyd af, gooi my om, sluk my in.
Dryf! is ek al geleer. Mét die stroom! was die raad.
Moet net nie teen die gety probeer baklei nie, hoor!
Ek is nie ’n bakleier nie! het ek nog altyd geskerm.
Saam-met-die-stroom-swem is beslis die veiligste.
En om te dryf kan seker maklik aangeleer word.
Maar het U my dan geroep om bloot te oorleef?
Bereik ek só my lewensdoel?
Daarom het ek nog altyd die hoër branders aangedurf.
Teen my beterwete, ten spyte van my gebreke.
Ek het altyd vas geglo U het iets vir my, dáár …
En nou het my domastrantheid my ingehaal.
Nou word ek al hoe dieper ingesuig. Afgetrek, en af, en af …
Hier kom dit weer, Here, hier is dit weer en ag
ek het net nie meer die krag om te keer nie
om te protesteer nie te kan probeer nie
kyk ek hou my hande na U toe uit
my lam arms my hande bewe
my oë gaan vanself toe ek
keer nie meer nie my
mond sluk sluk sluk
hoor ek roep nee
hyg ek kan nie
meer nie ek
kan ek
help
my
Here.
Amen.
Barend Vos