Lees Psalm 69:6-19.
Here, almagtige God, moenie dat dié wat op U vertrou, deur my toedoen teleurgestel word nie. God van Israel, moenie dat dié wat by U hulp soek, deur my toedoen beskaam word nie (v 7).
Here, ek kom vandag na U toe
in die grootste moontlike verleentheid:
Daar is mense wat sukkel om by U uit te kom –
en ek is die oorsaak daarvan.
U het my geroep om ’n bousteen te wees,
maar ek het klaarblyklik ’n struikelblok geword.
Sien, soos altyd teiken die moeilikheidsoekers mý –
nou is daar onskuldiges wat ook in die spervuur is.
Ag, Here, red my mense tog – gou!
Kry hulle voor hierdie spul se visier weg.
Hulle verdien niks hiervan nie;
hulle het nie daarvoor gesoek nie.
As daar een is wat skuldig staan, is dit ek …
En U weet, Here, dat dit oor u Naam is dat dit so gaan.
Omdat ek U eer, word ek bespot.
Terwyl ek na u wil vra, kry ek hul skewe antwoorde.
Wanneer ek u aangesig soek, kom staan dié gedrogte voor my.
Hulle versprei stories, die strate lê vol daarvan.
Die vernames lag my uit;
die suiplappe sing spotliedjies met my naam daarin.
Maar die ergste: My familie, my eie huismense,
trek gesigte as hulle dink ek sien dit nie.
Hulle wys vinger agter my rug.
Hulle praat nie met my nie; hulle wil my nie meer by hulle hê nie.
Ook vir hulle het ek ’n verleentheid geword.
Die modder verswelg my, Here –
kry my hier uit!
Ek sukkel om asem te kry –
help my orent!
Help my,
en my mense, asseblief, Here.
Ons vergaan.
Amen.
Barend Vos