Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Bitter

Lees Psalm 69:20-37.

Laat u straf hulle tref en die vlam van u toorn hulle oorval (v 25).

Here, vergewe my dat ek so bitter is,
maar U verstaan mos – dan nie?
U weet tog hoe wreed dit is
as ’n hond geskop word wanneer hy reeds lê.
En hoe erg dit is om tevergeefs om hulp te roep.

Hiér lê my bitterheid, Here, my ontnugtering:
Dat daar mense is van wie ek meer verwag het
– dalk net simpatie, dalk bloot begrip –
wat hul rug vir my gedraai het.
Dit maak seer, Here.

Maar ek wonder soms wat maak die seerste,
en wat jou binneste so vergiftig:
om trompop geloop te word,
om in die rug gesteek te word,
of om bloot geïgnoreer te word?

Vergewe my daarom my bitterheid, Here,
as ek wens dat hul dag gou sal kom.
Dat die leedvermaak waarmee hulle na my kyk
en my beskinder, uiteindelik ook hul lot sal wees.

Vergewe my die gebed dat U hulle sal vergeld.
Dat U woedend sal word,
en dat U hul slagoffers sal wreek.
Ja, laat hulle in u hande val, Here,
sodat U die bravade uit hulle uit kan wurg.

Ek wil graag glo in u reddende regverdigheid;
ek wil roem in ’n God wat nie sy kinders
se leed ongesiens laat verbygaan nie.

Laat my tog sing oor U wat U sigbaar
met u kinders se swaar en seer bemoei, Here.
Laat my die lied aanhef van hulle wat gesien
en geglo, en bly geword het
oor ’n God wat ingryp.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.