Lees Psalm 70.
Ek is hulpeloos en arm; kom tog gou na my toe, o God. U is my hulp en my redder, Here, moet tog nie talm nie! (v 6).
Here, ek moet vandag bely dat ek nie uitgelate
voor U is nie. En ek weet nie regtig wat en hoe
dit is om my in U te verheug nie.
Dit maak my klaarblyklik arm, want deur die eeue heen
het u kinders dit beleef, dié vrolikwees: Hulle het vir U
hande geklap, hul hande voor U opgehef.
Vandag nog sing sommige met hul oë styf toegeknyp –
wiegend, meegevoer, verlore in hul liefde vir U.
Hul gebede is lofpsalms; hul getuienis ’n luide uitroep.
Ek beny hulle, Here. Ek is dikwels afgunstig
op die geloofstaal wat hulle so voortreflik
bemeester het. Wat so maklik kom.
Hul lewe glimlag vir hul medemens, hul voorbeeld glinster.
Hulle trap vrolike spore in ander se lewe; hulle hef mekaar op.
Ek, daarenteen, is dikwels so bedruk dat ek ander mense
met my saamneem in my donkerte. Aftrek in my negatiwiteit.
My geselskap is nie opbouend nie. My sinisme beïnvloed almal.
My mening oor alles en nog wat is ’n voorspelbare stroom somberheid. Ek is vir niemand tot enige heil nie.
Here, is dit omdat ek seergemaak voel dat ek
in der waarheid besig is om ander af te knou?
Is dit my kleinserigheid wat my omgewing so vergiftig?
Verlos hulle dan van my!
Laat hulle met die vrymoedigheid
wat hulle sekerlik van U gekry het
hul hande bly ophef na u vriendelike gelaat
en hul oë finaal afwend van my suur gesig.
Bevry my dan ook van myself.
Van die woede wat ek saamdra,
die boosheid wat ek agter my aan sleep.
Ja, verlos my!
En vul my leë siel met u Gees.
Amen.
Barend Vos