Lees Psalm 71:1-8.
U is my hulp van my geboorte af, reeds voor ek in die wêreld gekom het, het U my beskerm. U loof ek gedurigdeur (v 6).
Van altyd af is U my Here!
U ken my sedert my geboorte.
U het my destyds gevat soos ek is.
Vandag, sê die spotters, sit U
steeds met my opgeskeep …
Ek lag maar vir hulle – hulle weet nie wat hulle sê nie.
Hulle weet niks van onvoorwaardelikheid nie.
Sies tog, dalk moet ek eerder vir hulle bid –
so baie van hulle ken nie ouerliefde nie.
Hulle roem op hul mag, hul vermoë
om te doen wat hulle wil, wanneer hulle wil.
Daarom weet hulle niks van afhanklikheid nie
en het hulle geen behoefte aan beskerming nie.
Hulle ken nie koestering nie
en deernis is nie in hul woordeskat nie.
Dalk het niemand hulle nog vasgehou nie …
Ja, eintlik is ek jammer vir hulle:
Hulle weet nie van beter nie.
Ek weet ook nie so baie nie, Here,
maar ek weet darem wanneer ek opgetel word,
en ek weet wie dit doen. Van my geboorte af.
Nêrens is ek so tuis soos by U nie.
U het my destyds gevat soos ek is …
en vandag sit U steeds met my
op u skoot.
En al huil en kerm en knies ek,
en al sukkel U met my tandekryprobleme,
het U nog nooit moed opgegee nie.
So lê ek tevrede in u arms,
en oefen solank die lofliedjie wat ek
– eendag as ek groot is –
vir U sal sing.
Amen.
Barend Vos