Lees Psalm 71:9-13.
Moet my tog nie verwerp nou dat ek oud geword het nie, moet my tog nie alleen laat nou dat my kragte ingegee het nie (v 9).
Ons kom al ver, nie waar nie, Here? Van my kleintyd af,
toe U my nog moes dra. Tot U my leer kruip het, bietjies-
bietjies, en ek hoeveel keer my kop gestamp en omgekantel
en droewig gehuil het en U my weer opgetel en getroos het.
Nog later het ek mos begin loop, vas oortuig ek is nou
groot, nou sal ek self regkom. Hoe hard het ek nie geval nie!
Aanvanklik was ek te skaam om my wankelrigheid
te laat blyk, of selfs aan myself te erken. Platgeval
het ek geroep; U moes my keer op keer kom ophelp.
Het U geweet, Here, dat hierdie onvastheid
eintlik nooit verbeter het nie? Inteendeel:
Hoe ouer, slimmer, vaardiger ek geword het,
hoe onsekerder ook. Hoe huiweriger my tred.
Nou is ek eensklaps oud.
Ek weet nie hoe dit gebeur het nie; ek weet nie
hoekom dit so gou opgedaag het nie.
Toe ek my weer kom kry, eendag voor die spieël,
toe is dit só. Die gedwonge doktersbesoek het dit
bevestig. Soggens herinner my opstaan my daaraan.
Toe ek ’n kind was, was iemand so oud soos ek nou is,
stokoud!
Weerloos.
Stil.
Afhankliker as ooit.
Dit is soos dit is …
En boonop is ek banger as ooit:
bang vir die nuwe pyne, vir die ou vyande.
Soos ’n kind bang vir donker en dieptes en hoogtes,
vir eensaamheid, vir baie mense, vir stilte, vir geraas.
Hou my vas, Here! Tel my op u skoot.
Ek is steeds u kindjie klein.
Amen.
Barend Vos