Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Moeilike opdragte

Lees Psalm 72:1-4.

Leer tog die koning, o God, om te regeer volgens u wil, leer die koning om die reg te handhaaf soos U dit wil (v 1).

Ag, Here, soms is dit swaarder as ander kere – dié opdrag
om vir ons regeerders te bid. U vra darem groot dinge!
U stel hoë verwagtings aan u kinders …

Én aan hul koning.
Daarom, lyk dit my, sal ons vir hom
en sy mederegeerders móét bid –
sodat ons aan u wil gehoorsaam is
en hulle nie in u hande val nie.

Dus bid ek nou vir ons land se regeerders,
Here. Ek bid dat u geregtigheid sal seëvier
en dat u opdragte gehoorsaam sal word.
Dat U aan hulle goed duidelik sal maak
wat u voorkeure is en wie geregtig is op
spesiale sorg. Dat U hulle daarom sal weerhou
van eiebelang, selfverryking en partydigheid.

Ek bid dat u deernis vir armes en magteloses
in die regeerders se optrede weerspieël sal word –
in hul wette én in die uitvoering daarvan. Dat hulle
sal bly belê in dié land se belangrikste bate – sy mense.

Daarom bid ek ook dat hulle spesiale aandag
sal gee aan al ons land se kwesbare kinders –
dié wat hulle nie self kan verweer nie en wat
weinig status in die oë van ’n onsimpatieke
samelewing het. Dat die regeerders deur alles
wat hulle tot stand bring – al die noodsaaklike
vangnette – ons kinders behoorlik sal beskerm.

Here, ek besef alte goed dat die uitvoering
van die mooiste voornemens en die beste
wette uiteindelik by die bevoorregtes berus –
dit wil sê, by ons, u kinders. Ons wat in U
álles het wat ons hart begeer. Laat my dan
hierdie bevoorregte hart en mond oopmaak
vir hulle wat deur die lewe uitgesluit word.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.