Lees Psalm 72:5-20.
Mag die reg onder sy regering floreer en mag daar vir altyd groot voorspoed wees (v 7).
Here, hoe begeer ek tog leiers wat vir hierdie land
net goed sal wees! Regeerders wat ons almal net
tot seën is, wat deur die wêreld gerespekteer word.
Dit is so ’n mooi land dié, Here, wat U uitgekies het
vir my en my mense om in te woon.
Ons is oor tientalle geslagte heen met hart,
siel en liggaam daaraan verbind. En met ons
hele verstand en met al ons krag.
Daarom kan ons nie anders nie as om gereeld
en ernstig vir hierdie land te bid, en vir sy mense – ons.
Maak ons oë oop vir die skoonheid wat daar
in die skynbaar alledaagse skuil – woestyn en woud,
die berge, die vlaktes. Die môrestond, die sonsondergang.
Die wolkekrabbers se silhoeët. Die aantreklikheid van mense
se handel en wandel – in die stad se strate én op die sypaadjies.
Leer ons, Here, om niks as vanselfsprekend te aanvaar nie.
Dat die stedelinge respek sal hê vir landbouers
wat kos en drank oorvloedig op hul tafel besorg.
Dat dié wat op die platteland woon, waardering
sal toon vir die tegnologie wat in stede ontwikkel word.
En wat ons leiers betref, Here: Wil U hulle seën
met die wysheid om ons land nog mooier te maak –
om die oes se oorvloed wyd te versprei,
om die voordeel van die geil opbrengs
aan elke inwoner te laat toekom.
Gee ons tog leiers wat ook ons lewe verryk,
Here. Mense wat die wonder van God
en sy gawes ken. En wat die vertroue
wat U in hulle stel, in hul feilbaarheid
eer en probeer om dit waardig te wees.
Tot ons heil.
En ter wille van u Naam.
Amen.
Barend Vos