Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dom dagdrome

Lees Psalm 73:1-5.

Tog het ek daaraan begin twyfel, ek het byna koers verloor, want ek het die hooghartige goddeloses met afguns bejeën toe ek hulle voorspoed sien (v 2-3).

Here, ek skaam my om dit te sê:
Ek word tog só maklik beïnvloed!
Oorgehaal tot ’n ander se standpunt.
Veral verblind en verstom deur ander
mense se gerieflike lewe. Die gemaklike
manier waarop voorspoed hulle te beurt val.
En dan is ek maar te gereed om hulle
en hul spreekwyse én werkwyse na te volg.

En dit, sal U goed weet, het my al suur bekom.
Daar was die keer toe ek my vergaap het aan
die voorspoed van hulle wat my tydgenote is.
Wat my toe laat wonder het: “Ai, waar kon ek
nie vandag gewees het as ek saam met hulle
gegaan en ook aan húl tafel gesit het nie!”

Dít het my nagte lank laat wakker lê, desperate planne
laat maak. Wilde drome laat droom, onrealistiese
eise laat stel aan almal wat naby my was.

Ja, omdat ek my oë en ore uitgeleen het aan die sogenaamde
welvarendes, het ek my hart en siel, en ook verstand,
aan hulle en hul voorspoed verpand. Hulle en hul maniertjies
het my meer as ooit gefassineer. Tot my skande moet ek dit
vandag erken: Ek het dit tog só aantreklik gevind …
En ek het allerlei plannetjies beraam om hulle dit na te doen.

Hoe dom was ek nie!
Hoe maklik het ek vergeet dat U nog altyd
vir my gesorg het. Dat U en u troue liefde
nog altyd genoeg was. Dat in my sieklike
strewe na méér, ek heeltemal van dankbaarheid
vergeet het. En skoon van die werklikheid.

Én die oneerlikheid, die waansin,
die simpel spektakel van na-apery.

Hou my tog wakker, Here!
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.