Lees Psalm 73:6-12.
Dit is hoe die goddelose mense is! So gaan hulle ongehinderd voort om rykdom op te hoop! (v 12).
Here, my grootste ontnugtering in die lewe
was dié kere toe ek verstom gestaan het
voor eie boosheid; die gemaklike neiging
wat mense soos ek tot gruwelike kwaad het.
Maar U het my ook die ontnugtering laat beleef
toe die mense wat ek bewonder en selfs navolg,
húl kleur gewys het. Toe ek, met die skille wat
die een ná die ander van my goedgelowige oë val,
gesien het hoe hul ware agenda lyk. Hoe dit is
wanneer selfsug en eiebelang na homself omsien.
Hulle stuit nie vir die waarheid nie,
hulle deins nie terug vir geweld nie.
Alles, maar álles is geoorloof en word
in die werk gestel om ’n doel te bereik.
Niks en niemand word ontsien nie.
Daar is geen genade nie, geen gewete.
En geen God.
Hulle doen wat hulle wil en hulle sê wat hulle wil.
Hulle voel vir mense net soveel soos wat hulle vir
God voel. Soms is daar nog die sweem vroomheid
wanneer hulle oor U praat. “Allerhoogste,” sê hulle
en wys met die vinger na bo. Maar dan is dit meer spot
as eerbied. Daar is geen perke aan hul hovaardigheid nie.
En hulle word al hoe ryker; ongestoord gaan hulle
voort om besittings en invloed op te stapel.
Om te dink daar was ’n tyd toe ek hulle wou navolg;
hul denke en redenasies het so aanloklik voorgekom!
En hul sukses …
Toe het U ingegryp.
Mý gegryp.
My oë oopgedwing.
Ek loof U, Here!
Amen.
Barend Vos