Lees Psalm 73:13-14.
Dat ek die kwaad vermy het en met ’n eed my onskuld verklaar het, het dus niks gehelp nie (v 13).
Here, ek is jammer, maar dié ding
wil my eenvoudig nie laat los nie:
Ek kyk hulle só, ek hoor hulle aan,
en dan dink ek, onwillekeurig:
Kyk wat bereik hulle!
Kyk net hoeveel sukses het hulle,
hoeveel geld maak hulle,
hoeveel mense beïnvloed hulle …
En dít sonder om een enkele oomblik
aan God of sy gebod te dink.
Kan dit so sleg wees om van God te vergeet?
Het Hy dan so ’n groot invloed op jou lewe?
Ag, Here, U moet my goed verstaan:
Dit is nie dat ek dit ooit sal oorweeg nie.
Dit is net … Wát het my jare lange toewyding
aan U my nou eintlik in die sak gebring?
Kan U my eerlik sê – vergewe my hiervoor –
dat ek ooit guns in u oë gevind het?
Dat my doen en my late U laat glimlag het?
As dit so is – hoekom het ek, deur die jare heen,
dan so gesukkel? So knaend kleigetrap?
So bly hunker na iets meer?
Hóéveel keer so skouspelagtig misluk?
Trouens, dit lyk my, Here, dat dit met verloop
van tyd eerder swaarder gegaan het. Erger.
Nee, ek weet nie eintlik waarom ek juis vandag
hierdie klaagsang ingesit het nie, Here.
Dalk was dit maar weer die gedwonge aanhoor
van “hul” nuwe sukses. Die verpligte aanskoue
van presies hoe “hul” rykdom toegeneem het.
Dan kyk ek in die spieël, en ek wonder:
Sien U my regtig raak?
Amen.
Barend Vos