Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

In hierdie bekende stilte

Lees Psalm 73:15-22.

Daarom het ek diep nagedink om dit te verstaan en was dit vir my bitter moeilik totdat ek in die heiligdom van God ingegaan en besef het wat die uiteinde van die goddeloses is (v 16-17).

Ek het nou ’n bietjie gedink, Here …
Nee, nee. Eintlik het ek lank en diep
gedink en uiteindelik vir myself gesê:
“Jy is darem nie baie slim nie!”

Ja, ek is dom, Here, sonder ’n greintjie insig.
Ek weet byvoorbeeld nie wat ek in die lewe
wil hê nie – vandag is dit dít, môre dát.
Die ware insig in die lewe en in myself moet
dus uit ’n ander oord kom; beslis nie uit mý nie.

Maar ek dink ek het daardie bron ontdek, Here,
die plek waar ek darem so ’n bietjie wyser word.
Eintlik is dit bloot ’n bevestiging van wat ek
lankal geleer het –
dit is u huis. Dit is in die plek waar ek U aanbid.
Daar waar ek stil word – só stil dat ek niemand
en veral nie myself kan hoor nie. Dáár,
só, het dit tot my deurgedring.
Het U, om die waarheid te sê, dit aan my gewys:
Was dit ’n prentjie van ellendelinge op ’n glybaan?
Van die doodloopstraat van verwaandes?
Van die begraafplaas van boosheid?

Maar dit was so duidelik, Here! So klinkklaar
dat selfs ek met my skeptiese aard dit nie kon miskyk nie.
Dit het my laat sidder. Ek was ontsteld omdat ek my so byna
deur hulle laat mislei het. Omdat ek so dom was, so sonder insig.
Goedgelowig.

Ongelowig, soos hulle en al hul meelopers.
Om te dink dat ek my by hulle geskaar het …
Al was dit bloot in my kop.

Dankie dat U aan my gedagtes
’n ander inhoud gegee het. Hier,
hier by U.
In hierdie bekende, ou stilte.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.