Lees Psalm 73:23-28.
Dié wat ver van U af is, gaan verlore, U vernietig dié wat aan U ontrou is (v 27).
Ek het toe weer dié dure les geleer:
Om ver van U af te leef – al is dit bloot in my gedagtes –
is ’n seker resep vir moeilikheid, nou,
en bittere selfverwyt, nou én later.
Ag, Here, en dan het dié moeilikheid
sy oorsprong op geen beter plek nie
as ’n soort naïewe naywer, ’n primitiewe
jaloesie op ander se skynbare voorspoed.
Kinderagtig, ek weet. Ek skaam my, Here!
Maar so dryf ek toe in my gedagtes en my dagdrome
en my plannetjies al hoe verder van U af weg.
Nie net verkies ek ander geselskap nie, maar gaandeweg
begin lyk my stiltetyd ook anders – ek dink oor ander dinge.
Daar gaan dae verby dat ek nooit aan U dink nie.
Ek soek ’n ánder wil;
ek hoor ’n vreemde stem
en probeer ’n nuwe begeerte bevredig.
Ek het U nooit voor oë nie.
En sonder waarskuwing, eensklaps,
gebeur dit dat U my oë oopmaak. Sommerso.
Iewers in ’n stilte waarin U
– ek weet nou dit is U – my gelei het.
Soos in ’n goddelike lokval.
Toe wys U my die hele prentjie,
die uiteinde van my lawwe drome.
En ek sien u hande wat U om my geslaan het.
Waarmee U my vashou in ’n greep
wat U nooit laat los het nie.
Ek het geleer:
Om ver van U af te voel, is goddank nooit
dieselfde as om ver van U af te wees nie.
U is nader aan my as my gevoelens.
En U sal altyd juis dáár wees.
En daar bly.
Amen.
Barend Vos