Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Hoe dan nou, Here?

Lees Psalm 74:1-11.

Waarom, o God, hou U aan om ons te verstoot? Waarom is U kwaad vir die kudde wat aan U behoort? (v 1).

Ag, Here, kry U ons dan nie jammer nie? Raak dit U
nie as ons geboelie word nie? Kyk net wat doen hulle;
kyk hoe word alles wat vir ons dierbaar is, verwoes –
dink tog aan ons! Ons behoort mos aan U.
Of hoe, Here?

Dit is eintlik met U wat hulle so spot;
dit is met u eiendom wat hulle so te kere gaan.
Hulle vergryp hulle aan ons – en ons behoort mos aan U.
Of hoe, Here?

U verbintenis met ons kom al jare –
eeue. Ons vaders en moeders het ons altyd
met smaak vertel hoe U met hul vyande
gemors het, en met dankbaarheid hoe U
in hul leed ingegryp, hul vrese besweer het.
Hulle het geweet dat hierdie ontferming nooit
sal ophou nie. Want ons behoort tog aan U.
Of hoe, Here?

Vandag is ons verbyster oor alles wat verniel is;
al die kosbaarhede wat voor die voet gestroop word.
Miskien is ons grootste ontnugtering die feit dat U nie
ingegryp het nie; dat U alles sienderoë toegelaat het …
Ons behoort dan aan U.
Of hoe, Here?

Nou is daar niemand meer wat ons troos nie; geen profeet
wat verder as ons kan sien en ons kan waarsku nie.
Moet hulle dan nie u woorde na ons toe bring nie? U het hulle
tog hiervoor geroep, na ons, wat aan U behoort.
Of hoe, Here?

Of het U ons nou heeltemal gelos? Het U ons verruil
vir ander, gehoorsamer kinders? Het U moeg
geword vir ons? Dalk het U bloot vergeet
dat ons ooit aan U behoort het.
Of hoe, Here?
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.