Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Net U kan …

Lees Psalm 74:12-23.

Moenie dat die verdrukte teleurgestel omdraai nie, red die hulpelose en die arme, laat hulle u Naam prys (v 21).

Noudat ek alles gesê het wat ek in my onbegrip
en bitterheid gesê het – en steeds nie kan glo
dat ek ooit so iets sou kwytraak nie, Here –
het een oortuiging gebly: Net U kan dié spul verwyder.
Net U kan, bloot met die lig van ’n vinger, hul gemors
opruim. U is die enigste wat iets goeds uit chaos skep.

U vergeet tog nie u kinders nie.
U vergeet nie wie ons is en hoe
U aan ons gekom het nie.
Daarom sal U ook nie vergeet
van die buitengewone dinge wat
U voor ons oë gedoen het nie –
óns sal dit nooit vergeet nie, Here!

Net een ding vra ons nou: Onthou ook
die ellendige dinge wat die boosdoeners
sonder ophou aan ons doen – dag en nag,
winter en somer. Hulle hou nie op nie.

Dit is teen U, Here van die heelal, wat hulle so vloek.
Die lawaai wat hulle maak, is skeltaal teen U gemik.
Hul misdade teen die weerloses is ’n poging tot moord op U.
Die skote op die hulpeloses tref U in die hart.

Daarom vra ons, pleit ons: Verdedig u eiendom!
Verset U teen die geweldenaars
wat uit die donker hierheen kom
om te plunder – en daarna weer
na hul duisternis terugkeer.
Staan op teen hulle, Here!
Verras hulle met u magtige
teenwoordigheid hier by ons.

Ja, onthou tog vir ons wat onder hulle ly,
Here van die dag, Here van die nag.
God van die seisoene, ontferm U oor ons!
Omdat U kan. Net U …
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.