Lees Psalm 75.
Maar ék sal altyd getuig, altyd sing tot eer van die God van Jakob (v 10).
Here, daar is so baie gelowiges – goeie, welmenende mense –
wat soms vra: “Wat sal van die goddeloses word?”
En, dié strikvraag: “Wat word van hulle wat nog nooit
van God gehoor het nie? Waarheen gaan húlle, eendag?”
Dan sê ek maar: “Dit is God se saak. Ons kan nie oordeel nie.”
Dit is mos reg so, nè, Here? Dit is tog net U wat oordeel?
Vergewe my dan dat ek nie altyd doen wat ek sê nie.
Want ook ek hou my mos slim en ag my regverdig,
en my breedsprakigheid ken geen grense nie.
Ek lewer uitsprake oor God se wil en verkondig
wyd en syd in besonderhede oor hoe en waar
ek God se stem gehoor en sy almag gesien het.
Ek is tog so ingelig oor alles, so seker van U
en van alles oor U; ek kan U mos tot in die
fynste besonderhede ontleed …
Ek sê: “God het mos gesê …”
en dan is dit eintlik
my eie idees wat ek kwytraak.
Ek roep uit, die ene bravade:
“God het vir mý gesê …”
en dan volg ’n stuk selfregverdiging
wat vermoedelik indruis teen alles wat
U ooit in enige omstandighede sou sê.
O, en ek is tog so lief om te oordeel en te veroordeel!
Ek, die selfaangestelde pleitbesorger vir God se saak.
In my selfvoldaanheid vergeet ek wat ek in my hart glo
en waaroor ek in helder oomblikke ronduit getuig:
God se saak is sý saak; ek verstaan daar weinig van.
Ja, soms onthou ek dat ek nie geroep
is om U te verdedig of te verklaar nie.
Ek moet mos eintlik net vir U sing, nè, Here?
Amen.
Barend Vos