Lees Psalm 76.
Uit die hemel het U u uitspraak bekend gemaak. Die mensdom het bang geword en stil gebly toe God gekom het om te oordeel, om al die hulpeloses op die aarde te red (v 9-10).
Here God, o Grote Krag,
hoe fenomenaal is u mag,
hoe buitengewoon u majesteit!
U breek die Bose se moed, U verpletter
die verdediging van die vermeteles.
U ontnugter die oormoediges wat in hul
verwaandheid waag om teen U op te trek.
Dié wat teen U wil stelling inneem,
word met minagting bejeën –
U lag hulle uit.
U bulderende stem laat alles verstil.
Hemel en aarde, berge en dale
luister met ingehoue asem
na u oordeel.
Almal staan verstom voor u regspraak, Here.
Dié wat hulle daarop toegelê het om brutale onreg
uit te deel, sidder. Die mense wat daarop uit was
om kwaad te stig, bewe van vrees. Hulle wat teruggesit
het om die vrug van hul aaklige arbeid grynslaggend
gade te slaan, staan kaal en klappertand voor die wêreld.
Maar dié wat aan die kortste ent getrek het, jubel.
Sukkelaars en slagoffers is ekstaties:
God gee moed aan die kragteloses!
U open nuwe moontlikhede vir dié wat afgemat is.
U breek geslote deure af, stoot mensgemaakte mure om.
Daarom, julle wat aan die ontvangkant van sy goedheid is:
Vertel Hom dat julle hierdie gunste en gawes sal aangryp.
Wys Hom dat wat Hy so ruim aan julle skenk, julle met ope
arms sal ontvang. Belowe Hom dat julle dit alles sal aanwend
om Hom te eer. Gee Hom die geskenk van julle gehoorsaamheid.
Loof Hom met julle lewe. En … kyk ’n slag goed na alles
wat die kwaaddoeners ontbeer –
en eer Hom wat in wysheid regeer.
Amen.
Barend Vos