Lees Psalm 77:1-10.
Het God vergeet om medelye te hê? Het Hy in sy toorn sy ontferming onttrek? (v 10).
Ek sê maar wat U weet, Here: Ek sukkel om te slaap.
U weet dit, ja, want U hoor my sekerlik as ek snags
met myself redeneer. Wanneer allerlei gedagtes my kop
vul sodat daar nie plek is vir die rus wat die nag
veronderstel is om te gee nie. Wanneer die dag se einde
’n nuwe donkerte inlui, bloot ’n ander eensaamheid bring.
Ek soek na U, Here –
en ek vind niks.
Ek roep –
en niemand antwoord nie.
U hoor my tog!
Gee U dan nie meer om nie?
Raak my rusteloosheid U nie?
Dan moet ek dit seker maar aanvaar
dat my geprewel nie tot by u hart kom nie.
Ek noem saggies alles op wat U in die verlede
vir my gedoen het, maar ek soek tevergeefs
na u vingerafdrukke in my lewe vandag.
Ek onthou hoe hartlik ek vir U gesing en voor U
gespeel het, maar nou het u hoor en sien vergaan.
Ek herinner my haarfyn aan ons geskiedenis, Here –
maar ek kan om die dood nie onthou of ek U
vandag gewaar het nie. U stem het stil geword.
U was so onmiskenbaar teenwoordig toe ek ’n kind was,
maar noudat ek klaar is met die dinge van ’n kind, het U
straks ook van my afskeid geneem. Mis U my dan nie?
Wanneer het U dan so kwaad geword?
Wanneer het U opgehou om te vergewe?
Van wanneer af het U moeg geword vir my?
Here, Here,
hoe moet ek tog maak
om weer u aandag te trek!
Amen.
Barend Vos