Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Anderkant my twyfel

Lees Psalm 77:11-21.

Ek wil dink aan die dade van die Here, ja, ek wil dink aan u wonderdade van vroeër (v 12).

Here, my probleem met die twyfel wat
so gereeld kom aanklop en dan sommer
binnekom en hom kom tuismaak in my
gemoed, is dat ek my aandag dan bloot
op negatiewe dinge toespits – die sleg,
die swaar, die seer, die onverklaarbaarheid.
En wanneer ek dit agterkom en probeer om
aan iets anders te dink, sukkel ek. Ek het
veral probleme om u goedheid te onthou,
die kere toe U so sigbaar ingegryp het.

Ek moet my daadwerklik inspan,
ek moet dit oor en oor vir myself
sê: “God is goed; Hy is goed vir my.”
En dan moet ek my dwing
om te onthou van al die kere
toe U my gehoor het as ek vra;
toe U geluister het wanneer ek kla.

Dit is ook moeilik, Here, om my destydse
dankbaarheid voor die gees te roep.
Ek onthou vaagweg ’n gebedjie of wat,
miskien selfs iets van die geprewelde
inhoud daarvan. Ek kan nie dink dat
ek ’n danklied gesing het nie. Of selfs
een keer vir iemand gesê het: “Weet jy
wat die Here vir my gedoen het …?”

Wat U gedoen het – al die wonderdade –
het gekom en gegaan. By my verbygegaan,
asof dit so hoort.
Asof dit my toekom.

Ag, Here, gee my tog weer oë
wat van myself af kan wegkyk.
Wat Ú sal raaksien –
buite my klein wêreldjie,
anderkant my twyfel.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.