Lees Psalm 78:1-4.
Ons sal aan die volgende geslag vertel van die roemryke dade van die Here en van sy mag, van die wonderdade wat Hy gedoen het (v 4).
Dit is al die stories van ons vaders en hul vaders,
Here, wat my laat opstaan om die nuwe dag aan
te durf. Hulle het ons van U vertel, en van u
ingryping in die verlede. Ja, dit is my hoop
op die goeie God van ons geskiedenis wat
my laat kans sien om weer voort te gaan.
Ek kry elke môre nuwe moed omdat U
vandag dieselfde sal wees as gister.
Is dit steeds só, Here?
Kan ek met vrymoedigheid glo in u goeie
bedoelings vir ons vanjaar, bloot omdat U
in ’n vorige eeu u hand oor ons gehou het?
Bied die voortyd vanselfsprekend ’n bloudruk
vir die toekoms? Bepaal U steeds ons lot?
Ek wil graag bly glo dat U ons nie vergeet het nie,
Here. Ter wille van my kinders en hul kinders
wil ek die stories van my voormense oorvertel.
Kinders luister tog graag na die ou verhale
wat swart op wit na hulle toe kom. Of met
kleur en geur. Én prentjies, as dit kan.
Maar as dit ook kan, Here, wil U dit nie asseblief
vir my makliker maak nie? Sal U dan nie vir my
’n nuwe verhaal gee nie, ’n onlangse voorbeeld
van God se guns? Dat ek met vaste stem en gloeiende
oortuiging kan uitroep: “Julle jonges! Kom hoor hier:
God is groot! Kom ons kniel voor Hom! Kom ons sing!”
Dan sál hulle kom, Here, ons kleintjies.
Want hulle glo maklik – goeie nuus val sag
op hul ontvanklike ore. Buitendien sing hulle graag.
En dit alles maak – hoop ek –
my krimpende hart heel,
my wankelende geloof sterk,
en my bitter mond weer soet.
Amen.
Barend Vos