Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die witbrood onder ons arm

Lees Psalm 78:17-29.

Hulle het geëet, meer as genoeg, Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het (v 29).

Die enigste les wat ons uit die verlede leer,
Here, is dat ons nie uit die verlede leer nie.
Hoe lank gaan U nog met ons uithou?
Hoe lank nog sal U anderpad kyk wanneer ons oortree?
Hoeveel keer sal U weer met ons begin, en wéér?
Wanneer gaan U die witbrood onder ons arm uitpluk?

Ons het gewoonteklaers geword,
ontevredenes van beroep. Ja, ons
spits ons daarop toe om ons lot
te verwens, ons medemens te beny
en ons Here vir alles te verkwalik.

Dit is hoekom ek vandag skoorvoetend
na U toe kom en soebat: Here, dink tog
nie daaraan nie! Here, vergeet en vergewe
asseblief my onredelike ontevredenheid.

Ek vra dié dinge omdat daar soveel verhale vertel word
van u kinders wat, tot oorlopens toe versadig, nooit ooit
tevrede was met alles wat onverdiend na hul kant toe
gekom het nie. Hulle het gekla en geëis en dikmond dit
gewaag om ’n vinger na U te wys. Weerhou my daarvan!

Leer my om my hand eerder uit te steek na
die baie brood wat U aan my toevertrou het.
Leer my om dit te verdeel, aan te gee, oor
die straat te stuur en om dit op die water te gooi.

Laat my tog dié een ding uit die ou stories leer:
Daar is geen heil in ’n lewe wat ontevrede gelei
word nie – alewig te na gekom, immer bedrieg.

Leer my u oorvloed raaksien
en dit geniet.

Leer my om blymoedig te gee,
soos U.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.