Lees Psalm 78:65-72.
Daarna het die Here weer ingegryp. Dit was asof Hy geslaap het, soos iemand wat in ’n roes was en nou wakker geword het (v 65).
Daar kom ’n tyd dat u swaar hand oor ons
genadig sal toegaan. En dan maak dit ’n vuis
wat U vir húlle sal wys. U sal U weer oor ons ontferm …
Dit sal nie ’n oomblik te vroeg wees nie, Here!
Ons is voos geslaan deur die sweep
wat ons vir onsself gevleg het.
Ons kan regtig nie meer die las verduur
wat ons op onsself gelê het nie.
Dankie vir u beloofde sorg vir ons, u steierende kinders.
Dankie vir die Dawidstorie wat deur die eeue heen
na ons toe kom, wat ons tot vandag toe troos.
Dat U hom – van almal, hý! – gekies het
om u eiendom te versorg, gee my moed
vir die leiers wat U vir ons gegee het.
U liefde ken geen tyd of plek nie;
u ontferming is altyd nuut en propvol
onverwagte, opwindende vooruitsigte.
Ag, en ons ploeter tog só gemaklik voort,
gewoond aan ons onvervuldheid.
Ons is tuis by ons pondokdenke.
Daarom sug ons oor u vreemde keuses
en staan steeks en dikmond voor
u vreemde weë; ons kortsigtigheid
verdra klaarblyklik nie verrassings nie.
Ons ken nie ontferming as ons dit sien nie.
Maar U eis nie dat ons U verstaan nie.
U vra bloot dat ons U vertrou.
Dat ons u doen en late in ons persoonlike lewe
en vir ons mense en vir ons bure,
vir volksgenoot en vreemdeling,
en by die regeerders en deur die ganse wye wêreld,
sal sien vir wat dit is: God se troue sorg.
In voor- én teëspoed.
Amen.
Barend Vos