Lees Psalm 79:1-7.
Hoe lank sal dit nog aanhou, Here? Sal u toorn dan vir altyd duur, u woede soos ’n vuur bly brand? (v 5).
Die verwoesting van u ou volk se land
het swaar op hul hart gedruk – die stad
wat vir hulle heilig was. Veral die tempel
waarin U self – het hulle geglo – tuis was.
Ook hul mense wat so onwaardig dood is,
wat vir wind, weer en wilde diere laat lê is.
Ag, en daar is ongenadig met hulle gespot:
“Julle het mos gedink julle is wié! Julle het
ons mos uit die hoogte aangekyk, gehiet en
gebied, verneder, versukkeld gelaat. Nou is
die skoen aan die ander voet. Dis óns beurt!”
Haai, Here, hulle het nie geweet watter kant toe nie;
hulle was nie meer seker van U nie. Ja, miskien was
dit hul vertroue in U wat uiteindelik die vernaamste
slagoffer was. Hul ontnugtering oor U, wat blykbaar
bloot toegekyk het. Wat hul verwydering uit hul
magsposisie belangeloos, stilswyend gade geslaan het.
God met die gevoude hande …
Hulle het mos altyd geglo dat hulle in u oë
iets besonders was, uitverkore, onaantasbaar.
Mense met ’n Goddelike roeping, onuitblusbaar.
En toe word hulle ontnugter, nog meer: gestuit.
Weggeboender. Uitgestoot. Geïgnoreer.
Hul waanbeeld oor hulleself lê aan skerwe.
Hulle roep: Hoekom, Here! En hoe lank nog?
Ás hulle tog maar destyds na hul profete geluister het …
Ás hulle maar gehoor het hoe dié hulle gewaarsku het …
Gemaan het oor eiegeregtigheid, opgeblasenheid, selfregverdiging …
Só dink ons nou, millennia later.
Bloos oor die bekendheid van dit alles.
Skrik weer vir die honde wat so blaf.
Lê wakker lánk voor die haan ’n derde maal kraai.
Amen.
Barend Vos