Lees Psalm 80:1-8.
Almagtige God, laat dit weer met ons goed gaan, verskyn tog tot ons redding! (v 8).
’n Here wat hoog bo tussen sy engele woon
én onder by sy stofskoppende skape vertoef
is ’n God sonder gelyke. Dit is hoe U is.
En daarom skyn u lig wyd oor die skepping,
helder oor dié wat U gemaak het
om u wêreld te bewoon.
Wat het nou gebeur, Here?
Dit blyk dan dat U die stok en die staf wat nommer pas
is in ’n goeie herder se kragtige hand, weer laat val het.
Of doelbewus eenkant neergesmyt het.
Dat U die engele wat U beveel om tot ons redding te kom,
se vlerke geknip het.
Hoe donker het dit geword toe u lig oor ons verduister …
Maar sien U darem, ten spyte van die uitsiglose duisternis,
ons trane, Here? Die bitter strome teen ons geskende gesig?
Die troosteloosheid van u ontredderde kinders?
Ons het ’n voorwerp van vernedering geword
– hulle lag ons uit! – en ons het nie antwoorde
vir hulle nie. En ook nie vir onsself nie.
Uiteindelik is ons die armsalige
teiken van u almagtige woede.
U pers die lewe uit ons uit –
wanneer loop u beker oor?
Ons verdrink in u toorn.
Ná die afgelope jare het ons darem hiérin berus:
Hierdie bitter beker sal nié by ons verbygaan nie.
Nou vra ons maar, so tussen die swaar slukke deur:
Wanneer sal u goedheid en guns ons weer volg?
Wanneer sal U ons weer met genade,
barmhartigheid en vrede begroet?
Wanneer sal U weer tot ons redding
verskyn? En hoe lank nog voordat U
ons weer uitstuur – gesalf en geseën?
Amen.
Barend Vos