Lees Psalm 81:9-17.
Daar mag vir julle geen ander god wees nie, julle mag voor geen vreemde god neerbuig nie (v 10).
Ons weet alte goed dat U die enigste Here is –
die God bo alle gode. Die oënskynlikes, die sogenaamdes,
die gogga-maak-vir-baba-bang-godjies is liggewig – inderdaad
soms papiergewigte. (Dalk deug sommige vir ’n deurstop.)
Hoe vreemd tog dat hulle ’n aanhang het!
Mense met gesonde verstand buig laag
voor blik en klip of oorgeblaasde goud.
“U hoogheid” is straks goedkoop laaghout,
’n knipmes-kunswerk, ’n vlooimarkmonarg.
Jy laai hom op ’n wa en bring hom waar jy
wil wees. Jy dra hom in jou broeksak en haal
hom uit wanneer nodig. As jy hom wil hê,
moet jy weet: “Bepalings en voorwaardes
geld.” Want hy eis jou laaste druppel bloed.
Maar onvoorwaardelik is u trou, Here,
onpeilbaar die omvang van u sorg.
Hoe kán ons U dan nie eer vir wie U is
en vir wat U doen nie! Hoe durf ons die
name van dié interessante bedinksels,
hierdie koddige skepsels na ons beeld,
selfs voor U fluister?
U moet ons tog nie prysgee aan ons kinderagtigheid nie.
Moenie toelaat dat ons infantiele gedrag U ontstel nie.
Lag ons liewer uit, kry ons jammer, koggel ons
met ons ou godjietjies. Hou moed met ons, Here!
Ons sál ons van ons bygelowigheid bekeer.
Ons sal ons sakke leegmaak en ons hande oop
na U toe uithou. Ons sal opnuut agter U inval
en ons verheug oor die duidelike spoor. Ons sal
die vernietiging van ons versinsels aanskou. Soos
altyd sal ons gevoed word deur die oorvloed koring
en heuning wat die enigste Here vir ons beskik het.
En ons sal by dié liefdesmaaltyd aansit en vir U sê:
“Seën, Vader, wat ons eet; laat ons nimmer U vergeet.”
Amen.
Barend Vos