Lees Psalm 82.
Maar julle weet niks, julle verstaan niks, julle gaan eenvoudig in duisternis voort, en so word die fondamente van die wêreld geskud (v 5).
U, die enigste God, verdra nie onreg nie. Daarom het U
nie tyd vir nagemaakte, kamma-kamma-godjies en hul
lawwe manewales en troostelose swye nie. Hulle tel nie;
hulle is te dom, te doof, te blind en heeltemal woordeloos.
Draagbare troos-teddiebeertjies vir dié wat tam geword het.
Maar dit is die lewensmoeë aanbidders daarvan, Here,
hul onbegrip en hulpeloosheid, wat U op die oog het.
Want U kyk met sagte oë na mense – dié wat moeg
en oorlaai is; hulle wat wees en weerloos gelaat is.
U vat met sagte hande aan almal wat dringend
na elke strooihalm gryp, wat op alle moontlike
maniere antwoorde probeer vind vir die raaisels
wat hierdie lewe na hul kant toe gesmyt het.
U gee om vir dié wat lankal te sat is vir omgee.
U kyk goed na hulle wat na niks meer omsien nie.
Daarom, dit weet ek, blits u oë vol ontsteltenis
en donder u stem – die ene argwaan – as U
met sogenaamde gode gekonfronteer word.
U kan dit nie verdra as u kragtelose kinders
’n onbarmhartige rat voor die oë gedraai word nie.
U verafsku die soort bedrog waarin afgode uitblink:
Hulle bied vals hoop. Gul gee hulle gerusstellings
waarop hulle nie geregtig is en waartoe hulle geen
bydrae kán lewer nie. Só word die verontregtes
verder verneder en val die verstotenes selfs dieper vas.
Vernietig die afgode, Here!
Red u misleide kinders wat aan hulle verknog is,
dié wat siel en liggaam verkwansel het
aan goedkoop hoop en vlak troos en dooie oë.
Kyk tog goed na u kinders wat alte aards dink.
Ontferm U oor ons wat soms in tuisgemaakte gode glo.
En vergewe ons, Here. Ons weet nie aldag wat ons doen nie.
Amen.
Barend Vos