Lees Psalm 83.
Moet tog nie afsydig staan nie, o God, moet tog nie stilbly en niks doen nie! (v 2).
Ag, Here, vergewe my dié ontevredenheid:
Dit is omdat U nie harder praat
en u gesig nie duideliker wys nie
dat ek dikwels in die verleentheid is.
Ek sê vir die mense: “Kyk wat gaan God doen!”
Dan sê hulle: “Ons sien niks.”
Ek roep uit: “Hoor ’n bietjie God se stem!”
Dan sê hulle: “Ons hoor nie ’n woord nie.”
Dan moet U húlle sien en hoor!
Hulle skop so ’n smalende lawaai op dat hoor
en sien vergaan. Ek is seker u ore tuit as hulle
so laster – dié met die groot mond en die nóg groter ego.
Hierdie openlike minagting is een ding;
hul sluwe sameswering ’n ander:
Hulle bring hul dae deur met planne maak.
Hulle wil u gesag ondermyn en u mense vernietig.
Hul agenda is eenvoudig: Daar is nie plek vir God-en-sy-gebod
én vir die verering wat hulle vir hulle opeis nie.
Daarom het hulle die sagste teiken gekies – u kinders,
juis dié vol weerloosheid en selftwyfel.
Hulle wag bloot vir die geskikte oomblik om toe te slaan.
Nou vra ek U, ek soebat: Keer hulle, Here!
Krap hulle noukeurige planne deurmekaar;
omskep hul magswellus in ’n warboel.
En, veral, snoer tog hul mond …
Dat die smalende kwaadpraat oor God en sy mense
kan end kry. Dat hul woorde sal opraak; dat hulle
uiteindelik sal skaam kry oor die onreg wat hulle bedink
en die boosheid waarmee hulle nog altyd weggekom het.
Maar nou sal U mos hard praat, Here!
Nóú sal hulle U duidelik sien.
Amen.
Barend Vos