Lees Psalm 84:1-4.
Ek versmag van verlange na die tempel van die Here; met alles wat ek is, wil ek jubel oor die lewende God (v 3).
Hoe lieflik is u woning, Here!
Hoe goed om daarheen te gaan,
hoe heerlik om daarbinne te wees.
Die koesterende koelte, die skoon stilte.
Hoe smag ek daarna as die gedruis te veel raak!
Verlangend dink ek dan terug aan laas,
aan my vorige besoek, aan die rus
en vrede wat ek daar beleef het.
Die skuiling teen ’n blakerende son
en ’n week se woeste winde.
Ek tel die dae:
Hoe lank nog voordat dit weer sulke tyd is …?
En snags in die bed, as my gedagtes op toer
gaan en gou daar gaan hallo sê, dan wonder ek:
Is dít hoe gewydheid lyk?
En klink en ruik?
Is dit die oop, stil ruimtes?
Die skrapse deurlaat van die son?
Die reuk van boeke en politoer?
Dit kan tog nie die plek se mense wees nie, Here;
húlle is oral op straat te vind, in die winkels,
by die werk. In hul eie huis.
Is dit nie miskien die voëltjies nie?
Die onverstoorbare nesbouers,
die opgepofte, trotse broeipare
wat bo teen die dak tuisgekom het?
Die swaels, die mossies …
Here, ek weet wel dat as ék daar ingaan,
en die stilte my versadig en die koelte
my oordek en ek met hart en siel tot rus
gekom het, ek dan saggies begin neurie,
en gou uit volle bors
by die kwetterendes inval.
Amen.
Barend Vos