Lees Psalm 84:5-8.
Dit gaan goed met die mense vir wie u huis ’n tuiste is: hulle hou nie op om U te prys nie (v 5).
Here-van-die-lieflike-wonings,
wat ’n voorreg om deel van u huishouding
te mag wees! Hoe wonderlik om te weet
dat U altyd vir my ’n woord het
wanneer ek daar tuisgaan.
En dat daar altyd vir my, kind-in-die-Vaderhuis,
’n plek aan tafel gedek is.
Ek weet lankal dat u kinders nie geregtig is
op voorkeurbehandeling in hierdie wêreld nie.
Inteendeel, hulle word dikwels juis geteiken.
Ek weet wel dat u huismense altyd die reg het
om “kinders van God” genoem te word.
En God se kinders weet sonder twyfel waar
hul hulp vandaan kom en by wie hul krag lê.
Soos kleingoed wat liefdevol versorg word,
weet hulle uit watter soort huis hulle kom.
Ander mense kyk na hulle – en weet dit ook,
al hou hulle nie noodwendig van wat hulle sien nie.
God se kinders weet dat hulle teen wil en dank
altyd op reis is; hulle leer op die swaar manier
dat hul pelgrimstog hulle deur ’n dorsland neem.
Maar juis daar word hulle die eerste getuies
van die godswonders wat u alledaagse werkwyse is.
So leer hulle: Dít is soos die Vader van ons huis dit doen …
Ons leer deur swaarkry en seerkry
hoe buitengewoon U is, Here.
U laat U ken in droogte én in vroeë reën,
in seënende strome deur die hele seisoen.
Wanneer ons dan ná die lang pad
by u lieflike woning kom,
kan ons sê: “Ons het God gesien,
in ontbering én by die uitkoms –
en dit was baie goed!”
Amen.
Barend Vos