Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Uit die voorportaal …

Lees Psalm 84:9-11.

Waarlik, één dag in u tempel is beter as duisend daarbuite. Ek staan liewer by die drumpel van die huis van my God as om te woon in huise sonder God (v 11).

Here, U ken my nou al lewenslank
as iemand wat graag gehoor wil word.
Daarom vra ek altyd – uit pure gewoonte –
dat U tog aandag aan my gebede moet gee.

Asof U al ooit u ore toegedruk het
wanneer ek met U begin praat …
U luister dan so sekuur na my gefluister,
en ek weet U hoor haarfyn wat my sugte sê.

Hoor my dus as ek weer vra dat U asseblief tog
nie my gebede vir ons regeerders wegwys nie.
Luister na my smekinge, ter wille van húlle
en die rekenskap wat hulle aan U verskuldig is.
En ter wille van ons, want soveel van ons wel en wee
hang af van hul doen en late – hul besluite en versuim.

U weet tog ek vra dit by voorkeur
in hierdie gewyde plek, u lieflike woning.
En al kan ek my radeloosheid oor dié
loodswaar sake bloot van die stoep af
uitroep, of uit die voorportaal,
is dit vir my genoeg.

Ek kan dit tog nie daarbuite bid nie, Here;
mense sal dit nie verstaan nie. En, om eerlik
te wees, ek het nie meer die moed daarvoor nie.

Nou staan ek maar hier, net
’n entjie weg, en ek roep na U.
Ek kry net ’n glimp van u altaar;
’n aks, verbeel ek my, van u gesig.

Maar U het my lankal geleer
’n greintjie van God is genoeg.

En ek weet daar is geen ander
plek vir ’n teësinnige gebed nie.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.