Lees Psalm 84:12-13.
Die Here God is ons krag en ons beskerming, die Here gee genade en eer, Hy weerhou die goeie nie van dié wat reg lewe nie (v 12).
O Here, u “lieflike woning” is
net ’n gebou van klip en sink,
steen en sement. En baie mooi hout.
As U nie daar is nie, is dit die prooi van mot en roes.
Sonder U word dit ’n bymekaarkomplek
van selfbehepte sondaars;
’n nes van eiegeregtigheid en oordeel.
Maar nou ís U hier – Son van Geregtigheid;
Skild van ons Behoud. Hoe heilig is u Naam!
Dat u Naam op elke vloerplank en dakbalk
geskrywe staan, is ons trots. Nou kan ons sê:
“Ons plek van samekoms behoort aan die Here.”
Dat U elke enkele sitplek beset, dit is ons troos.
Nou weet ons vir seker dat U vir ons plek maak,
hiér. Waar ons, moeg en oorlaai, tot rus kan kom.
Ons wat eintlik buitestanders moet wees,
het in u heilige Naam inkommers geword.
Trouens, U het ons kom haal
– sommige sommer klein-klein –
en ons hier kom neersit.
Ons het by U tuisgekom.
By U het ons geleer hoe salig dit is om aan Een
te behoort wat woord hou. Hoe onbeskryflik
bevoorreg ons is dat dié woord sag is, vol belofte.
En hoe allertroostend dat U ons beskerm –
ook die kere dat ons wil opstaan en uitloop;
wegvlug van die minagting, die veroordeling.
Dán loop u Naam U vooruit, Son en Skild.
Dan verblind U skynheiliges, verjaag hulle.
En dan dek U ons toe – verwond, maar veilig;
die erge littekens met liefde gesalf.
Amen.
Barend Vos