Lees Psalm 109:6-19.
Hy het graag vervloek, laat die vloek hóm tref! Hy het nie graag geseën nie, laat seën ver van hóm af wees! (v 17).
Here, wie gee aan mense die reg om my skuldig te bevind,
te vonnis én dan sommer die oordeel te voltrek?
Om aanklaer én regter én laksman te wees?
Waar kom hulle in elk geval aan die string klagtes;
die beskuldigings wat hulle afrits?
Hoe het dit gebeur dat daar soveel
besonderhede daarin vervat is?
Here, hoe dan …?
Hére?
Ag, Here, is daar dan ’n kans dat ek skuldig is
aan alles wat hulle met soveel argwaan sê?
Dat die klagtes wat hulle so skromeloos
teen my inbring, inderdaad steek hou?
Dat hulle dit nie uit die duim gesuig het nie;
dat hul fel woede ’n bewys daarvan is?
Ek weet dat daar baie is wat alles glo wat gesê word.
Wat reken dat die beskuldigers tog iets beethet.
Dié wat al skellend saamgesels; wat nóg klagtes afrits en bylas.
Wat by voorbaat die lippe aflek, hul vuiste bal, die messe slyp.
Wat help dit ek probeer my verweer, Here?
Hoe kan ek teëpraat as ek self nie oortuig
van my saak is nie? As my onskuld nie
so maklik blyk nie? As ek twyfel
aan my motiewe, my optrede, my geloof …
en aan U?
Nogtans wil ek liefs in u hande val
– hoe vreeslik dit ook al mag wees –
eerder as om in haters se kloue te beland.
Ek kies te eniger tyd, áltyd, u greep.
Vat my maar vas, Here.
En maak met my
net soos U wil.
Amen.
Barend Vos