Lees Psalm 109:20-29.
Laat my teëstanders met skande oordek word, laat vernedering hulle aankleef soos hulle klere (v 29).
Here, as ek nié skuldig is aan alles
wat my voor die kop gegooi word
nie, spreek U my dan vry, asseblief.
Dan is dit net óns saak.
Ek met U en U met my.
Ek het geen erg aan hul gemompelde verskonings nie;
nog minder aan hul stilstuipe: ’n seker teken van skaamkwaad.
U sal wel weet hoe U teen hulle wil optree.
Met hulle sal afreken.
Mag ek dalk ’n voorstel maak, Here?
Iets aan die hand doen in dié verband?
U onthou mos wat hulle my alles toegesnou het:
die dreigemente, die verwensings?
Nou ja, Here, hoe sal dit wees as U
dit alles op húlle laat neerreën?
As wat hulle my toegewens het
bewaarheid word, maar dan
op ’n ander wyse as wat hulle gedink het?
Ek vra dit nie met triomf in my hart nie,
Here; U ken my. U sien my soos ek hier
voor U lê. Net ’n skadu van die mens
wat ek eens was. Hoe moeg ek is;
hoe uitgemergel deur die venyn
wat ál my krag getap het.
Dit het nog nie opgehou nie …
Sal dit ooit tot ’n einde kom?
Sal dit in godsnaam dan nooit ophou nie?
Wil U nie maar, eens en vir altyd, openlik wys
wie regverdig opgetree en wie gelieg het nie?
Lig u hand, Here!
Slaan hulle!
Lig u hand,
en seën my.
Amen.
Barend Vos