Lees Psalm 110.
Die Here het ’n eed afgelê en Hy sal dit nie herroep nie (v 4a).
Here, U het U destyds ondubbelsinnig by u volk geskaar.
U het hulle op soveel maniere van u trou verseker
en hulle herhaaldelik en by die naam aan U verbind.
U het hul konings onder u vlerke geneem;
die heersers wat presies geweet het wie U is.
En wat hulle aan U het. Hulle het die septer
op u bevel geswaai; hul mag het van U gekom.
In u skadu het hulle geskuil.
Woorde oor dié verbintenis was volop,
sterk, soos U: “eed” en “vir altyd”, en meer –
en U doen altyd u woord gestand.
Wanneer die son oor die slagveld opkom,
was die stryd reeds besleg omdat U lankal reeds
voorsien het. Die eerste lig het oor u mag geskyn
as laaste woord aan ’n verwoeste vyand.
Al wat vir die koning oorgebly het,
was om die lyke te tel. Om sy dors te les by die stroom
van u voorsiening. En om trots, kop omhoog, sy triomftog
te voltooi. Dit alles het hom uit u hand toegeval.
Oorwinnings, tot sy vernuf gereken, is lankal in u boek
opgeskryf. Ja, u gehegtheid aan hom, aan hulle,
was niks minder nie as merkwaardig.
Nou wil ek graag weet, Here: Weet U hoekom hulle
U so maklik verruil het vir ’n ander volk se gode?
Kon U al agter die kap van daardie byl kom?
En waarom het u vaste verbintenis met hulle
deurgaans op sulke losse skroewe gestaan?
Maar vir my is die eintlike kwessie, Here,
nie akademies gesproke nie,
maar ’n stille lewensvraag
oor u latere volk, oor óns:
Is ons anders as hulle?
Wás ons ooit?
Amen.
Barend Vos