Lees Psalm 111:1-2.
Met my hele hart wil ek die Here loof in die samekoms van die opregtes, in die gemeente (v 1).
Here, om ’n ou-ou loflied “met my hele hart”
te sing, sê iets van die omvang van my dank
en dui op die diepte van my aanbidding.
Dit is tog anders as om “uit volle bors” te sing,
nie waar nie? Laasgenoemde kan soms so
kru wees, so hard op die oor. Die buldering
uit ’n vol saal; die latere ewe luide gespog:
“Ons het darem lékker gesing!”
“Volle bors” verklank nie altyd ontsag nie.
En “lékker” land nie sommer op die noot nie;
“ons” veroorsaak soms ’n musikale misoes.
Maar as ons van ganser harte sing, o Heer, sal hulle
wat ademloos sit en goed luister, die dieptes hoor
wat nie gepeil kan word nie. Kyk, ’n kring van ligte
praatjies word gou ’n byeenkoms van aanbidding
wanneer so ’n lied opklink; daar is tog geen groter
aanstigter van gewyde stilte as die sang wat uit die hemel
aangevuur word nie. Hier is immers niks wat oppervlakkig is nie.
Geen redelose rymelary, geen goedkoop gesmous met emosies nie.
Die sentimente is suiwer: onopgesmukte, nootvaste oortuiging.
Ja, mense hoor dit aan, en sonder dat hulle noodwendig wou,
bring dit hul gedagtes tot by U. By grootsheid en genade.
By blydskap, bewondering. By stilwees en aanbidding.
By goedheid sonder einde.
En eers dán, uiteindelik,
by durende lof en dank.
Hier is ek nou, Here.
Hoor die aanvangsnote
van my sagte gebed. Die eenvoudige begin
van ’n doodgewone liefdesliedjie vir U:
Ek wil die Here loof met my hele hart.
Amen.
Barend Vos