Lees Psalm 111:3-4.
Sy dade is vol majesteit en luister, sy trou staan vir altyd vas (v 3).
Here, U hoef nie op ons lofliedere te antwoord nie.
Ons lof is só gebrekkig en so vol oorgawe
aan onsself en ons eie stem. Ja, ons het self
groot plesier aan ons lof vir U.
Ek weet nie wat U hiervan dink nie;
U aan wie die lof toekom.
U wat deur ons sien …
Miskien is dit goed dat U niks sê nie.
Blykbaar verkies U om doodgewoon
voort te gaan om – vir almal wat oë het
om te sien en ore om te hoor – op u tipiese
ongewone, wonderwerkende manier te sorg
en te versorg. Ook om dié wat nie aan selektiewe
geheueverlies ly nie, te help om u magtige dade te onthou.
Ons kyk u majesteitlike handewerk mis, o Koning.
U grootheid het “gewoon” geraak; ons sien U nie
sonder meer raak nie. In hierdie verligte eeu
van sogenaamde deursigtigheid het ons verleer om dieper
te kyk en verder te soek. En só het ook u doen en late
vanselfsprekend geword, onsigbaar. Ons het, helaas,
die vermoë verloor om deur U verras te word.
Ons het “toeval” ontdek en “karma” leer ken;
“noodlot” het ons genadelose metgesel geword.
En ons het in verkleinwoorde oor U begin praat.
Daarom is ons lof aan U so effentjies, so skaamteloos
op eie grootheid gerig. Vol bewondering vir ons eie
harde stem, ons luisterryke liedjies, ons glansryke gebede.
Haai, Here, en nou blyk dit dat U tog op ons halfhartige
lof reageer! Ten minste ontvang U dit,
maak U dit méér as wat dit is.
U bly die grote God wat met u hele hart
u kinders vergewe
en hulle sonder uitsondering versorg.
Amen.
Barend Vos