Lees Psalm 111:5-6.
Hy voed dié wat Hom dien, Hy hou sy verbond altyd in stand (v 5).
Here, ’n kenmerk van u omgeehart is die sigbaarheid
daarvan; swaarkrymense sê: “Kyk net!
Dit is alles deur die Here gegee!”
Hulle sal wys wat hulle ontvang het;
sonder skroom verskaf hulle die feite:
“Só was dit hier by ons. Nou is dit anders.
God het voorsien. Prys die Gewer van die gawes!”
Daarom is dit jammer dat ons, bevoorreg,
met toe oë deur die lewe gaan. Ingekeer in onsself,
oorweldig deur ons eie begeertes. Óns nood
is dié nood. Ons sien dus nooit hoe dit lyk wanneer U
ander mense se ellende verlig nie. Ons oë bly
bloot op ons eie behoeftes gerig. Daarom is ons
bevoorregting nooit voldoende nie;
ons het altyd die een of ander tekort.
Die konfyt op ons witbrood is nie soet genoeg nie.
Niks is na wense nie. U gawes is ’n teleurstelling …
Ek raak deesdae al hoe banger dat U nie langer
aan my geite en grille sal toegee nie, Here. Dat U
u gewende hand sal toemaak, terugtrek. Dat U
my op dié manier sal dwing om weg te kyk
van myself. Om vir ’n slag te sien hoe U, roekeloos
vrygewig, hande vol uitdeel aan ware nooddruftiges.
Ag, en hoe U álles uitgee –
ook wat my sou toekom.
U is mos bekend daarvoor dat U
ondankbares, stiksieniges, selfaanbidders
se gewaande erfdeel van hulle wegneem
en aan dié skenk wat swaarkry ken.
Dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.
En ons wat altyd nóg wil hê?
Ons gaan met leë hande weg.
Hopelik dan sommer weg
van onsself ook, en terug na U.
Amen.
Barend Vos