Lees Psalm 111:7-8.
Wat Hy doen, getuig van trou en reg, al sy voorskrifte staan vas (v 7).
U het nog nooit anders as ’n reguit pad
met ons geloop nie, Here.
Die min wat ons van U weet,
laat ons glo dat U langs geen ander weg
beweeg nie; U laat ’n onmiskenbare spoor.
Dit is ons wat sukkel om by te bly; ons vind dit problematies
om koers te hou met die kompas wat U gee. Ons is mos
op kortpaaie ingestel. Altyd op die uitkyk vir “méér” en “beter”
en “gouer”. En só kies ons gereeld die weg van die minste weerstand
en beland dan dikwels juis in die dryfsand wat U ons wou spaar.
Ons het gou agtergekom, Here, dat u pad wel reguit is,
maar nooit maklik nie. Ja, op hierdie roete lê die duwweltjies
gesaai; dit is ongemaklik smal. Dit is bitter moeilik om die pas
daarop vol te hou. Daarby is die uitdraaipaaie volop.
Die rusplekke is so vreedsaam, so verleidelik rustig,
dat vertoef ’n moontlikheid word.
En omdraai ’n keuse.
Maar, het ons uit ons jare lange rondreise
geleer, die alternatiewe is net op papier aanloklik:
Dáárdie paadjies is bloot spreekwoordelik breed.
Dit word gekenmerk deur nimmereindigende
gevegte om die regte posisie, voldoende bronne.
By daardie oases vlieg die klippe.
Rus-rus baklei almal dat die stof so staan.
Die breë weg het ook net sóveel plek …
Here, ek het al te veel teenstrydighede beleef
en my té dikwels op die afdraande pad bevind.
U weet tog self hoeveel keer u opsoekende liefde
my moes kom vind.
Daarom pleit ek:
Hou my bestendig op u pad.
Leer my om koersvas te reis,
in u trou gestewel en gespoor.
Amen.
Barend Vos