Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die ABC van wysheid

Lees Psalm 111:9-10.

Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig. Die roem van die Here hou altyd stand (v 10).

Ons lewe is dikwels niks minder as ’n geveg nie, Here.
Ons baklei met ’n diep frons teen ons medemens,
met absolute argeloosheid teen die natuur,
met verraderlike vroomheid teen U.

En ons vernaamste oorlog is die durende geveg
wat ons teen onsself voer; teen die oneindige onvrede
oor verlede, hede en toekoms.
Die woedende stryd met ons afkoms,
ons voorkoms en ons gebrekkige vooruitsigte.

Ons gaan te gronde deur ons eie toedoen, Here.
Ons knoop gevegte aan wat ons nooit kan wen nie.
Ons het ons verbind tot ’n gestadigde selfdood.

As U ons dan so liefhet soos U sê U het,
moet U ons asseblief verlos. Veral van onsself.
U moet die hande wat ons om ons keel geslaan het,
loswikkel en wegruk. U moet die tou breek en wegsmyt.
U is die enigste hoop wat ons het om vry te kom van ons selfhaat;
van ons liefdelose denke en optrede teenoor ons medemens;
ons gebrek aan respek vir die skepping waarvan ons leef;
die skynheiligheid wanneer ons voor U staan.

Verlos ons, Here, met die waarheid oor u aard.
Maak ons vry van die teologieë waarmee ons
ons toegerus, bewapen en gepantser het.
Van ons teksversies-vir-elke-geleentheid.

Onderrig ons in die ontsag wat ons aan U verskuldig is.
Gee ons insig in die opdragte wat U ons gegee het.
Inspireer ons met die vryheid wat u trou ons bied.
Troos ons met u onvoorwaardelike teenwoordigheid.

En leer ons, u kwalik geletterde kinders, Here,
tog elke dag die ABC van werklike wysheid:
Om U te ken.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.