Boodskap vir Vandag

Search

Nalatenskap

Lees Psalm 112:1-2.

Sy nageslag is ’n sterk krag in die land, die geslag van die opregte word geseën (v 2).

Here, ek het grootgeword met die goeie nuus
dat om U te ken, te dien en lief te hê nié voorwaardes
vir u liefde is nie. Ek het geleer dat U nie afhanklik
van my toestemming is as U by my kom intrek nie.
Ek hoef nie goed te leef sodat U vir my goed kan wees nie.
U is lief vir my, ongeag …
Ten spyte van.

Dit is ’n blye, blye tyding!
Ja, dit is wonderlike nuus omdat ek myself ken.
Omdat ek weet hoe bedroef min “goed”
daar in my is. Omdat ek besef dat ook my heel beste
dade niks meer as selfdienende gebare is nie.
Nie juis verdienstelik nie, nè, Here?

Maar nou leer ek ook dat U ’n spesiale erfenis weggelê
het vir mense soos ek. Dié wat darem ontsag vir U het
en meestal doen wat U verwag. Dié wat lag-lag kan liefhê
wie ook al U oor hul pad stuur of in hul geselskap laat sit.

Vir óns, leer ek, het U klaarblyklik
’n buitengewone beloning:
Aan ons kinders, en aan hul kinders
kom die rype oes van ons tentatiewe godvrugtigheid toe.
Ja, vir hulle, die komende geslagte, word daar ’n erfdeel
voorberei waaraan daar geen einde is nie:
die seën van die ewige Here.

Alles, álles is genade, Heer,
onverdiende guns alleen!
Byna te goed om waar te wees:
My vreugde en my liefde werp duisendvoudig
vrugte af juis vir dié wat my bly maak;
hulle wat ek buitengewoon liefhet.

O, prys die Here,
die God van ons toekoms,
die Vader van my kinders!
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.