Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Basiese beginsels

Lees Psalm 112:3-4.

Hy laat sy lig in die donker uitstraal vir die opregtes, hy is genadig, barmhartig en regverdig (v 4).

Here, ek leer dat hulle wat vir U ontsag het
u gunsgenote in hierdie lewe is.
Ongeag hul status, afkoms, rykdom of beroep.
Volgens menslike standaarde is hulle nie noodwendig
die vooraanstaandes nie; ook nie juis gesogte gaste nie.
Maar voor U en vir U is hulle ’n lamp wat helder skyn
in hierdie wêreld wat lig veel nodiger het as brood.

Daarom geniet hulle, hierdie ligdraers, altyd die oorvloed
wat U vir hulle beskik het. Al is dit droë korsies. Koue water
en liefde is vir hulle voldoende. “Versadig” het vir hulle nuwe
betekenis gekry en “genoeg” het lankal vir hulle genoeg geword.

Hulle het bakens van geregtigheid geword, Here.
Ander mense – bekendes, vreemdes – sien op na hulle
en vind só hul morele kompas. Boonop kleef daar
’n sagtheid aan hulle. Anders as wat jy straks by kampioene
van geregtigheid sou verwag, is daar ’n genaakbaarheid –
’n warm hart,
’n oop hand,
’n glimlag.

Geen strak lyne om die beginsels óf die mond nie;
g’n gestrenge vermanings of keiharde opdragte nie.
Net ’n vriendelike lig wat uit hul oë skyn.

Dit alles, verneem ek, begin by ’n diep ontsag
vir U, wat oorvloei in respek vir mense.
En dit word voortgesit in vreugdevolle nadenke oor U
– U en u bemoeienis maak hulle klaarblyklik baie bly –
sodat hulle nie oorloop van bekommernis
oor wat hulle moet eet of drink of aantrek nie.
Hulle lag dikwels oor die dag wat kom.

Ek wil ook só wees, Here!
Leer my daarom asseblief hierdie
basiese beginsels
van die lewe voor u liefdevolle aangesig.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.