Lees Psalm 112:5-6.
Dit is ’n goeie mens wat hom ontferm en wat uitleen en in al sy sake reg optree (v 5).
Ek is van kleins af gewaarsku, Here, dat ’n mens
versigtig moet wees vir wie jy kosbare dinge uitleen.
En hoe ouer ek word, en hoe groter die moontlike skade,
hoe meer besef ek die waarde van daardie vermanings.
Dit is net …
dat ek op die mees onverwagte tye soms
ook sonder noodsaaklikhede betrap word.
Dan gaan staan ek – geswore nie-uitlener –
bakhand en rooigesig voor ’n medemens:
“Ag, asseblief …” vra ek en plooi my pleidooi só dat ek
as die slagoffer van ongelukkige omstandighede uitgeken
kan word. Geen nalatigheid hier, geen slordige versuim nie …
Dinge het egter nou ’n vreemde wending geneem:
Deesdae leer ek dat die ontvang-hand
na u mening vanself ook ’n géé-hand is.
Dat uitleen toe nie ’n sonde is nie maar ’n seën.
’n Voorreg vir bevoorregtes.
Erkenning van God se sorg.
Goed, het ek besluit, maar dan sal ek onthou
om noukeurig aan te teken vir wie leen ek wat.
Om behoorlik boek te hou van my gunste en gawes:
Wie is wat aan my verskuldig.
En presies wanneer is die keerdatum.
Maar toe, met verloop van tyd, leer ek ook
dat as ek nie daardie sommetjies maak nie
– as die bak linkerhand nie hoef telling te hou
van die oop regterhand se inhoud nie –
dan onthou die ontvangers sommer self.
Dan nie noodwendig die “wat” en die “wanneer”
nie, maar vir mý. Sonder dat ek hoef te beduie,
sien hulle dan vir U … in my. En sonder ’n woord
uit my mond, ken hulle sommer ook u Naam:
Ewige Voorsienigheid.
Amen.
Barend Vos