Lees Psalm 112:9-10.
Hy gee mildelik vir die armes. Wat hy doen, is reg en blywend. Hy geniet hoë aansien (v 9).
Here, dit lyk my dat vrygewiges nie juis
oral ewe gewild is nie; hulle word altyd dopgehou.
Nie besonder vriendelik nie, nie goedkeurend nie …
Hoekom sou dit so wees? wonder ek soms.
Jaloesie? Omdat daardie mense iets buitengewoons regkry?
Is dit doodgewone afguns op begaafdheid?
Dit is immers so, Here, dat ons met geklemde hande
hierdie wêreld binnekom; dat “myne!” vroeg-vroeg
ons woordeskat binnedring; hom oral inwurm
en lekker tuismaak en net nooit weer vertrek nie.
Behalwe by sulke goeie gewers.
Op ’n manier kon hulle afskeid neem van toe-eiening.
Niks kleef meer aan hulle nie. Hulle is losgemaak.
Hulle het vry geword.
Dan is dit seker te verwagte dat dié wat steeds as geboeides
leef, op hul tande sal kners en dié uitdelers allerlei
walglikhede toevoeg. Hulle is mateloos deur hul gevangenskap
gefrustreer. Hulle is kwaad vir almal en alles, behalwe hulleself.
Maar dié vloeke bons van die bevrydes af.
Dit het geen vatplek meer op vryheid nie.
Nee, ligvoets gaan soek hulle na die behoefte;
met ’n oop hand deel hulle alles wat hulle kan.
En die jaloerses kyk magteloos toe,
dan anderpad, en verstik in hul oorvloed.
Ag, Here, hoe gebeur dit dan dat soveel venynige stertjies
aan vrygewigheid geheg word en soveel sarkastiese stories
oor samaritane versprei word? Die ontvangers van die gawes
kyk tog met ander oë na die uitdelers.
Is baie bly oor hulle, onthou alles
en versprei met vreugde dié woord:
God gebruik elke dag vrygemaakte mense;
hulle is loshande die Here se beste instrumente!
Amen.
Barend Vos