Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Genadige eenvoud

Lees Psalm 113.

Wie in die hemel of op die aarde is soos die Here ons God, wat hoog woon en hier onder alles sien? (v 5-6).

Here, dalk is dit glad nie so moeilik om U
na waarde te skat nie! Miskien is dit bloot
’n saak van goedgelowige wiskunde:
Ons hier op aarde wat eers die afstand
na die hemel moet vasstel, en dan bereken
presies hoe ver U moet kyk om te kan sien
en hoe goed U moet hoor om te kan luister.
As ons dít eers weet, is dit betreklik eenvoudig
om ’n loflied in te sit: “Sing halleluja, prys sy Naam!”
’n Lied wat die son se baan volg
– van opkoms tot ondergang –
sodat God van vroeg tot laat
kleinkinderlik geloof kan word.

Die meeste mense kom só reg.
Hulle verstaan alles en glo die res maklik
en steur hulle nie aan ’n filosofiese gebabbel
en allerlei eksistensiële worstelinge nie.

Maar, Here, U is tog onberekenbaar meer as die produk
van menslike berekening van tyd en afstand, reikwydte,
lengte, breedte en hoogte. Om U te probeer bedink,
vra duiselingwekkende denke. Daarvoor waag ons
ons op ongekarteerde gebied, pak ’n onbegonne soektog
aan – tussen algebra, algoritme, kwosiënt, kwadraat
en onnaspeurbare koördinate deur – om uiteindelik stom,
verleë op die oneindigheid te stuit.

Daar is ’n maklike rekenkundige alternatief.
Maar dít vra begrip vir u vreemde versamelingsleer, Here.
Hiervoor moet jy kan deel
en bereid wees om
soms gemaal te word.

Jy moet egter – dankie, Vader! –
veral die genadige eenvoud
van optel verstaan.
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.