Boodskap vir Vandag

Search

Afgode – toe en nou

Lees Psalm 115:1-8.

Wat húlle het, is afgode, van silwer en goud, die werk van mensehande (v 4).

Here, die ou volk se geding met gode sorg
– vreemd genoeg! – vir boeiende berigte.
Haai, Here, hulle het so te kere gegaan oor die afgode!
Hul ellendige geskiedenis met dié stomme goed
verklap heelwat oor hulle, en omtrent alles
oor daardie haglike hout-en-klei-gedrogte.

Die ware profete en die troue volgelinge van die lewende God
kon ongenadig die spot dryf met hul volksgenote
en dié se beheptheid met daardie sogenaamde gode –
met oorgawe, en met reg.

En dit was nooit juis moeilik nie.
Dié duidelik sigbare godjies het dit maklik gemaak:
die getooide gesigte, kunstig gevormde ledemate;
’n fraai óf verskriklike voorkoms –
na gelang van hulle toegekende funksie.

Maar daar is nie lewe nie: geen gehoor, sig of beweging;
geen aandag, sorg of omgee; geen goddelike goedheid nie.
Hulle is handwerk, gebou om te hou …
totdat hulle val en breek of van ouderdom verkrummel.

Deesdae se afgode – dit moet ons toegee, Here –
is heelwat meer gesofistikeerd: die rugsteun van groot
geleerdheid; hulle kos baie geld; hulle het meer vaardighede
as hul voorgangers – hulle kan byvoorbeeld ego’s streel.

Maar steeds wys óns boontoe
as iemand vra: “Waar is julle God?”

Noem dit gewoonte of bygeloof, instink of opvoeding,
maar U, God-in-die-hemel, is die enigste moontlikheid
wat ernstig oorweeg kan word as jy jou afvra:
Waar sal my hulp vandaan kom?
Waar is my begin, my einde?
Die liefde van my lewe?
En my enigste troos?
Amen.

Barend Vos

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.