Lees Psalm 116:1-4.
Ek het die Here lief, want Hy verhoor my smeekgebede (v 1).
Here, daar is seker niks so bevredigend
soos om te kan sê:
“Ek het geleer dat …” nie.
Of: “Proefondervindelik het ek vasgestel …”
Soms moet ons wel met ’n skaam glimlag erken:
“Deur skade en skande word jy wys …”
Goddank, dan, vir die voorspelbaarheid daarvan
om by U te leer. Om keer op keer na u doen en late
te kyk en vir seker te weet: Dit was nog altyd so,
en dit sal vandag ook so wees en tot in ewigheid.
U sal môre na my luister, na my kyk, na my nood
omsien; my seën ver bo verwagting en verdienste.
En ek kan dit sê omdat U dit ook gister gedoen het.
Ek het dit dus geleer.
Proefondervindelik vasgestel.
Kyk, my vrese kan toeneem en my angs irrasioneel word,
maar U hanteer dit keer op keer met dieselfde sorg:
U hoor my, U verstaan my; U help en troos en gee my moed
en planne. U leer my herhaaldelik hoe om U te vertrou.
Só het dit gebeur – onvermydelik? – dat ek U leer liefkry het.
Jy kan ’n liefdeswoord tog net soveel keer hoor
sonder om daarvoor te swig …
En dan, op ’n dag, gebeur dit net.
Om deur jare heen keer op keer te beleef dat U regtig
na my luister wanneer ek roep, laat alle weerstand verkrummel.
U verbysterende genade is onweerstaanbaar.
Moet ek dit dan weer sê, Here?
Mag ek keer op keer
dieselfde prys-die-Here-deuntjie sing?
Hoor my dan!
Amen.
Barend Vos