Lees Psalm 116:5-8.
Ek moet nou tot rus kom, die Here het goed aan my gedoen (v 7).
Here, in hierdie holderstebolder lewe
kom ek skaars tot stilstand of ’n nuwe
uitdaging of selfs krisis duik op.
En dit is nie altyd so opwindend soos
ek wil voorgee nie;
dit word ’n uitmergelende besigheid;
dit
tap
jou.
Daarom het “rus vir my siel” ’n soort mantra
geword – soms ’n uitroep, dikwels ’n sug –
om die onsekere balans te probeer bewaar.
U gereelde ingrype in my lewe help my daarmee.
Dankie, Here, vir u oor wat my gehoor het;
u stem wat my gerusgestel én die kwaad verjaag het.
Dankie vir die nuwe spoor wat U so duidelik getrap het
en die lig wat U gemaak het om oor my twyfel te skyn.
Én, weer, dankie vir die trane wat U so saggies afgedroog het.
Nou rus my siel.
Nou kan ek hier in my stil ruimte sit,
oorweldig deur u omvangryke vrede.
Ek kyk terug op hoe dit was, steeds
verstom oor u verbluffende sorg.
Voorlopig verstaan ek “sielerus”:
Op hierdie oomblik is dit “nuwe asem”;
dit is “ek hoef niks te verduidelik nie”;
dit is “sluit jou oë so lank jy wil”;
dit is “laat jou gedagtes gaan”;
dit is “klim U in my kop, Here!”
My rus is nêrens anders nie as hier by U –
die Een wat my help
om liggaam en siel
aanmekaar te hou.
Amen.
Barend Vos