Lees Psalm 116:12-14; 16-19.
Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my? (v 12).
Here, ek staan dikwels verleë voor mense
wat goed is vir my; wat moeite gedoen het
om te help; wat hul hande na my toe uitgesteek
en wat hul hart oopgemaak het – en dikwels ook hul beursie.
Dan weet ek nie wát om te sê nie.
“Dankie!” is so doodgewoon;
“baie dankie!” bitter min;
’n “groot dankie!” tog so klein.
“Sê maar hoe ék weer kan help …”
voel my is ontwyking;
’n goedkoop manier om weg te skram.
Ag, wat kan ek vir hulle sê, Here?
En wat sê ek vir U?
Hoe bring ek my dank naastenby in ooreenstemming
met u oorvloedige sorg; die gunste en gawes wat my
sonder ophou te beurt val – asof dit maar so hoort?
Ek weet mos van beter, Here.
Ek weet dit kom uit u sagte hart
en ten spyte van my argeloosheid.
Hoe sê ek dankie?
Waarmee betaal ek U?
Hoeveel is voldoende?
Waar doen ek dit?
Wat daarvan, Here, as ek dit voor almal doen?
Dié wat my stryd gesien en my pleidooie gehoor het?
Dit wil sê, die getuies van my verlossing?
Hulle wat alles hand-voor-die-mond aanskou het?
Ja, dít sal ek doen: Ek sal sing en dans;
ek sal bid, ek sal offer. En uitroep: “Halleluja!”
Die kerkmense sal dus goed sien en hoor
en hopelik voortaan duideliker verstaan
hoe lyk die nuwe erediens van my lewe.
Amen.
Barend Vos