Lees Psalm 116:15.
Vir die Here is die dood van sy troue dienaars geen geringe saak nie (v 15).
Ons sal liefs nie hardop hieroor praat nie, nè, Here?
Nee, stilbly is beslis die veiligste antwoord
op dié opdringerige ou sakie. Gelukkig is daar genoeg
ander lyke om oor te gesels: slagtings, pandemies, volksmoord …
Sulke versamelname hou die dood op ’n veilige afstand,
Here, én verskaf ’n alibi aan goeie mense soos ons
om simpatiek te filosofeer en vinnig daarmee klaar te speel.
Om dit gou-gou weg te bêre. Tot volgende keer.
Soos ons maar maak met sulke dinge en skoon skottelgoed.
Dit is net soms dat dié besigheid na aan eie lyf kom.
’n Geliefde troeteldier, byvoorbeeld: ’n getroue ou hond;
’n katjie wat rondgedra is. Ver kennisse. Destydse klasmaats.
Een van die bure hier oorkant. In een week twee goeie vriende.
’n Niggie wat siek was.
Pa.
En toe Ma, nadat sy al lank gereed was
“om huis toe te gaan”, soos sy gesê het.
Na Pa toe, soos sy vas geglo het.
Nie ’n kind nie, o God, net nie ’n kind nie,
nooit. Dan eerder ek.
Goed, hier is dit dan: ek en my dood. Ons kan maar gou
gesels, Here! Nie noodwendig oor die hoe of die wanneer nie.
Ek weet immers dat dit hoogs geheime inligting is. Dat U niemand
daarmee vertrou nie. Ook maar goed so, sou ek sê. Want ek
sou dadelik begin het om ’n ontsnapklousule te probeer beding.
Nou sê U my dood is vir U nie sommerso nie. Nie ’n lastigheid
wat tog net afgehandel moet word nie. Dit is vir U … swaar, sê U?
Dan sê ek maar: Dankie, Here.
Nou sal ek weer kan voortgaan. Die lewe wag.
Dan het ons mos nou klaar gepraat,
vir eers.
Of hoe, Here?
Amen.
Barend Vos